Kort, bondige geskiedenis van ons gemeente

Die genade-verhaal van God se pad met sy kerk in Vredendal begin  in 1933. Volgens oorlewering is daar op die stoep van die Primêre skool op Maandag 13 November 1933 ʼn vergadering deur die Ring van Calvinia met ongeveer 250 mense uit Vredendal vergader en is die NG Gemeente Olifantsrivier gestig.  Die gemeente sou 2 bedieningspunte hê, Vredendal en Neersetting, wat later bekend sou staan as Lutzville.
Op 13 Maart 1935 is die hoeksteen vir die nuwe kerksaal gelê wat voortaan as kerkgebou gebruik sou word. Op 7 Desember 1940 is die gemeente se naam verander na die NG Gemeente Vredendal.
In die lig van groeiende boerdery aktiwiteite in die vallei het daar gedurende die sewentiger jare ʼn behoefte na ʼn tweede gemeente ontstaan. In 1974 is die NG Gemeente Vredendal-Wes gestig as dogtergemeente van Vredendal gemeente.
Tog het die moderne plattelandse tendense sy invloed duidelik laat geld in die geskiedenis van Vredendal en ook die kerk. Ontvolking van die platteland en groeiende ekonomiese eenhede het tot gevolg gehad dat die lidmaat-tal van beide gemeentes oor tyd begin krimp het.  Gaandeweg het eers informele en later meer formele gesprekke tussen die twee gemeentes ontstaan. In 2015 en 2016 het hierdie gesprekke begin momentum kry en teen einde 2016 het die twee gemeente gesamentlike komitees op die been gebring om oor die toekoms te gesels. Na ʼn lang maar deeglike proses is daar besluit om die twee gemeentes te laat saamsmelt.
Op Sondag 11 Maart 2018 het hierdie samesmelting ʼn werklikheid geword by ʼn feestelike geleentheid van in die kerkgebou van Moedergemeente Vredendal plaasgevind het. Hoewel die regstegniese naam van die gemeente die NG Gemeente Vredendal sou wees, is besluit om kortweg van Vredendal Gemeente te praat.